Review of 2018 show Vertoef / Linger, Johan Myburg (Beeld, Afrikaans)

Vertoef / Linger – Andries Gouws

Pretoria Kunsmuseum

Johan Myburg

Andries Gouws se Wall and Easel, Cité des Arts, Paris, 2016 (280 x 430 mm)

Miskien moet ons meer terugval op miskien, meen ek het Van Wyk Louw gesê, in reaksie op die stelligheid waarmee ons dinge kwytraak, die sekerheid wat ons aan die dag lê wanneer ons oordele vel. Moontlik geld dit ook die maniere waarop ʼn mens omgaan met etikettering in die kunste, met klassifiserings in genres soos landskappe en portrette, interieurs en stillewes. En, die toedig van betekenis.

Dit is waarvan ʼn mens weer bewus word in Andries Gouws se jongste uitstalling, Vertoef / Linger. Gouws bring werk gemaak tussen 2012 en 2018 byeen wat op ʼn manier almal stil lewes (eerder as “natures mortes”) kan wees, net soos wat almal landskappe kan wees, of portrette; werke wat vertoef tussen benamings. Wat is ʼn stillewe van ʼn kweper anders as portret van ʼn kweper, wat is portret van ʼn man anders as ʼn stillewe en wat is ʼn interieur anders as ʼn landskap?

Die stil lewe betrag Gouws uit verskillende hoeke en takseer dit op verskillende maniere, nietemin is die net meer as 30 skilderye almal ʼn vergestalting van die onsegbare oomblik (met ʼn knik in die rigting van Vermeer). En spesifiek dan die bestaan van die oomblik verseker in verf: die sonstreep op ʼn vloer; die lig op ʼn bergrug; die vlesigheid van ʼn kweper.

Sonder om die onafwendbare afloop van dinge (soos lig wat kan taan of ʼn vrug wat saf kan raak) te benadruk, raak die kyker bewus van die tydelikheid, van die “vertoef” wat ʼn beginpunt en ʼn eindpunt veronderstel. Soos wat ʼn sojourn in die Cité Internationale des Arts in Parys tydelik is.

Wall and Easel, Cité des Arts, Paris, 2016, is een van ʼn reeks Cité-skilderye wat uitdrukking gee aan dié tydelikheid, die tydstip waarop die son op die groen vloer geval het en die vertrek in daardie een oomblik lewe gekry het. Beskou ʼn mens dié skildery van een kant na die ander is daar die paneel glas met ʼn weerkaatsing van ‘n balustrade met ʼn suggestie van Parys, ʼn opvoutafel met ʼn groen doek, ʼn leë esel, ʼn kabinet met daarop ʼn mikrogolfoond, ʼn leë skildersdoek en ʼn houtdeur. Maar dit is nie dié voorwerpe of die representasie daarvan of die moontlike narratief wat die aandag so boei nie as die manier waarop dié interieur gestalte kry. Die manier waarop die kunstenaar die toneel organiseer en aanbied vir die kyker. “The innocent eye is a myth,” het die kunshistorikus Ernst Gombrich opgemerk, “all perceiving relates to expectations and therefore to comparisons.”

Dié aspek word verder versterk deur die feit dat Gouws ure bestee om ʼn moment te vergestalt en metterdaad die kyker noop om as’t ware stadiger te kyk. Dit is ʼn aspek van Gouws se kuns waaroor heelwat geskryf is en wat ʼn mens nietemin steeds opval en bekoor.

Sky, Mountain, Clouds (2017), verbeeld, soos die interieurs, nie die land nie, maar eerder die manier waarop die landskap gestalte kry. Ons sien in elk geval nie goed soos dit is nie, het die Amerikaanse skrywer Anaïs Nin glo gesê, ons sien dit soos óns is.

Hou ʼn mens dit in gedagte kan ʼn skildery soos Father and Son, Sleeping (2016-2018) interieur wees, en landskap, en stillewe. ʼn Interieur met spel van lig en skadu, ʼn landskap met bergrûe en valleie, ʼn stillewe met lap wat val in voue.

Miskien moet ʼn mens hand oor die mond dié uitstalling van Andries Gouws net bekyk en aanhou bekyk.

Tot 29 April. Daarna is dié uitstalling van 22 Mei tot 10 Junie te sien in KZNSA in Durban en van 2 tot 24 Augustus in die Irma Stern-museum in Kaapstad.