2011 Piero se Flagellazione. Beeld, November

Piero Flagellazione Gouws Beeld 2011Piero della Francesca se Geseling (Palazzo Ducale in Urbino)

“No picture could exude a more pronounced air of geometric control and no painting was ever more scrupulously planned.” Martin Kemp

As daar iets soos die mooiste skildery in die wêreld was, sou ek sê dit is Piero se Flagellazione.

Piero (±1410-1492) was ook ‘n wiskundige van formaat. Dit is hier duidelik dat hy een van die grondleggers van liniêre perspektief was, ‘n sisteem om drie dimensies twee-dimensioneel voor te stel wat die Westerse skilderkuns tot die 20e eeu sou oorheers.

In die Geseling is dit asof hierdie liniêre perspektief die kosmiese orde onthul – as argitektonies van aard. Alles in volmaakte proporsie, in ‘n orde wat volstrek toeganklik is vir die oog: suile, kapitele, die patrone van die vloer en mure. Ook die figure regs voor (wat doen hulle hier? wat het hulle te make met die geseling agter hulle?) is argitektonies, hulle bene suile, en hulle koppe en hoede kapitele.

Maar wat gebeur daar in hierdie volmaak geordende ruimte? Christus word gegesel. Twee lesings van die gebeure dring hulle op, albei miskien ewe geldig. Die een is dat hierdie gebeurtenis volstrek ongerymd is binne die volmaakte argitektoniese dekor: wanorde in die hart van utopiese orde. Die ander: dat hierdie gewelddadige gebeurtenis eweseer deel is van die goddelike, geometriese orde.

Daar is ‘n teenstrydigheid tussen orde, sigbaarheid, en misterie: alles is skynbaar daar vir die oog om te sien, sonder dat die kyker presies weet wát dit is wat hy sien.

Wat die skildery ook al mag beteken: dit is visueel verstommend.

Nie net is die kleure stralend nie: alles is net rég; niks kan verander word sonder om afbreuk aan die geheel te doen nie. By die honderdste ontmoeting is die skildery ewe vars en misterieus as die eerste keer.

Ek sou my siel aan die duiwel verkoop (luister jy, Satang?) om iets ‘n duisendste so mooi te kon skilder.

My werkwyse

… is ongelooflik stadig. Dit bestaan hoofsaaklik uit kyk en probeer sien. Eers soek na ‘n idee wat my en die kyker nie gaan verveel nie. Vir elke skildery wat ek wel maak, word tientalle idees en sketse, en honderde foto’s afgewys. Dan, terwyl ek werk, die stryd om te síén wat ek gemaak het. Die pynlikste: wanneer ‘n skildery iets kort, maar ek maande of jare lank nie kan sien wát nie. (Ek werk aan meerdere skilderye tegelyk). Die belangrikste en lekkerste: kyk na die werk van die meesters –Vermeer, Bonnard, die Chinese, Velasquez, Kentridge … En vir die afwisseling: blitsvinnige tekeninge maak.

Andries Gouws: Pedestrian Paintings is tot 3 Desember in die Standard Bank Galery in Johannesburg te sien, en daarna in die Pretoria Kunsmuseum van 9 Desember tot 29 Februarie.

This piece originally appeared in Die Burger in November 2011