2013 Louw se ‘Terugkoms’ stroop, gee energie. Die Burger, 8 March

Louw se ‘Terugkoms’ stroop, gee energie.

Johann Louw: Terugkoms van Cythera

SMAC Galery, Kaapstad, tot 23 Maart

Die Burger, 8 Maart 2013

Om na Johann Louw se uitstalling Terugkoms van Cythera te kyk, het my geweldig energie gegee – na afloop wou ek onmiddellik self skilder. Louw is ‘n painter’s painter. Wie self kuns maak, besef watter virtuositeit agter sy skynbaar agtelose skildertrant lê, byna brutaal robuus. Skilderstyl en onderwerpe is sekuur op mekaar afgestem: mense, diere en dinge word gestroop tot die barre minimum.

Die titel sinspeel op Watteau se Tog na Cythera, die eiland van die liefde. Die assosiasies wat die uitstalling oproep, is ontgogelend – Watteau se frivole Roccoco verliefdes keer van Cythera terug met ‘n hangover, beroof van hulle pragtige gewade en musiekinstrumente. Sterker nog, die toon is selfs apokalipties. Die dooie perd maak vyf keer sy verskyning;die oerhond ook – nog wíld, of wéér wild. Weg is alle ornament, troos, vermaak – alle ‘ydelheid’. In plaas van Watteau se hoofse hofmakery, kom naakte seks, sonder vóórspel – dink aan die kragtig geskilderde Naak onderlyf en Lêende naak met rog, seksueel besonder belade.

Betekenis word deur ongewone jukstaposisies gesuggereer, nooit uitgespel nie. (Ek assosieer die wederkerende rou gevilde rog met die manlike sowel as die vroulike geslagsdele).

Dit klink na ‘n bar, ontheemde wêreld, maar die verf (materiaal en daad) bied die wêreld se plesier! Die terughoudendheid van Louw die verteller word ruimskoots vergoed deur die vrygewigheid van Louw die skilder. Die manjifieke Gesig A II, hoewel vereenvoudig soos ‘n Afrikamasker, beeld ‘n lydende subjek uit. Soos baie van Louw se skilderye is dit asof geskep deur ‘n skilder wat tegelyk ook beeldhouer is. Die groot Dooie perd roep met sy byna monochrome palet en abstraherende lyne Picasso op; ook die twee perdekoppe met die onmiskenbaar dooie oë, reeds besig om skedels te word. Dié hoogtepunt is vir my egter Groot rubbermasker en profiel, waar Louw die rubbermasker met die vryheid van ‘n De Kooning in dik verfhale opbou.

Louw se figure bevind hulle gewoonlik in ‘n leë, nouliks gedefinieerde ruimte, en by sommige van die groot skilderye gee dit aanleiding tot haakplekke. In hierdie groot leë vlakke verlaat Louw die gevegsterrein wat sy forte is: die maak van merke wat tegelyk wérk as beskrywing van ‘n gesig, hand of hond, én as kwashale wat in hulle eie reg plesier gee. Wanneer Louw se kwas niks beskryf nie, oortuig die kwashale soms minder. Maar dit is ‘n klein bedenking by ‘n uitstalling wat geweldige genot verskaf.