Bettie Lambrecht – Beeld (Afrikaans)

‘n Filosoof en ‘n bekroonde skrywer span saam om te wys wat agter gewone aansigte van dinge gebeur of nie gebeur nie.  In Hiding behind simple things en Drawing is soek die kunstenaarsegpaar Andries Gouws en Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen) na wat alledaagse “nie-estetiese” goed oor lewe, onthou en vergeet sê.

In twee afsonderlike aanbiedings wat stilisties en inhoudelik skynbaar nouliks iets met mekaar te doen het, ontgin die kunstenaars betekenis.

Gouws vind herinnering aan ervarings en gevoelens, beelde van menslike broosheid in die lig wat op voorwerpe val.  Winterbach haal betekenis uit die “proses” van kunsmaak, gesuggereer in sketslyne, patrone en skribbelwoorde.

Gouws wys fotografies korrekte motiewe en interieurs  met die fokus op “onaantreklike” hoeke en besonderhede.  Maar dan baai hy alles in ‘n vreemde lig.  Wat soek hierdie geheimsinnige, eteriese lig wat die 17de-eeuse Jan Vermeer van Delft se gewyde stemming oproep in hierdie funksionele vertrekke?  ‘n Terloopse blik op ‘n kamerkas sonder styl, ‘n seepbakkie, plafonlig, onooglike pypomhulsels vir elektriese drade?  Toegedraaide voorwerpe, ‘n skildery verpak vir ‘n tentoonstelling?  Of iets anders toegedraai en vergete op ‘n kas?

Die kunstenaar prikkel nuuskierigheid met hierdie verdoeselingstegnieke  al is hulle nie nuut in die kunsgeskiedenis nie.  Meer nog dwing hy tot vars vertolking deur sy saamsnoer van twee tradisies.  Vermeer se manier om gewone dinge tot esteties verhewenes om te toor deur sy gebruik van lig, gekombineer met ons tyd se oog vir die onfraaie.

Dis asof die kunstenaar wil hê die kyker moet eers gepootjie raak deur die dokumentêre voorkoms van sy voorwerpe.  Hy gee voor die voorwerpe is belangriker as blote rekords van ‘n soort middelklas-bestaan iewers waar elegansie en ornament nie hoog geag word nie.

Maar teen wil en dank, namate jy bly kyk en begin voel, word die vaalheid daarvan opgehef.  Die woord Madrid, saam met ‘n seepbakkie en waterglas, roep assosiasies op van ‘n plek waar iets belangriks ervaar is.  Die toegedraaide voorwerpe begin boei as verpakte lewens wat wag om geleef te word.  Op pad êrens heen.  Uitgelewer aan wag.  Wag om bevry te word van vergetelheid sodat “onthou” herbelewing en insig kan bring?

Verskillend in styl en aanslag, soos Winterbach se los pastelsketse op dubbel aanmekaargelaste stukke papier is, voer sy ‘n visuele gesprek met Gouws.  Hoe ver, klink dit of sy vra, moet ‘n voorwerp bly om net-net nie te verdwyn in vergetelheid nie?  Waar hou onthou op?  By ‘n woord wat sy spelling verloor, uitgevee word deur ‘n hand of deur tyd, of by ‘n vorm wat in die skadu’s verdof?

Plek en konteks word ook vir Winterbach betekenisdraend.  Amper meer deur die afwesigheid daarvan  ding en plek word immers net skuinsweg gesuggereer in die abstrakte matriks van kruislyne wat plek-plek stene word.  Die webpatroon gee konteks vir intellek en intuïsie wat soek na verbande tussen stukkies woorde en fragmente vorm.

Die spanning tussen letter, woord, vorm en kleursmeersel groei uit deur die manier waarop die een die ander verswelg.  Soms het die teks nog betekenis, soms word letters kalligrafiese simbole.  Woorde word ook verwring sodat nuwe samestellings ontstaan.  Byvoorbeeld constained en itemately.  Selfs die geassosieerde verhalende element wat deur woorde opgeroep word, word geneutraliseer.  Die strokiesprentformaat (met sy geïmpliseerde “storielyn”) verwater byvoorbeeld tot net terloopse komma-agtige, gebaaragtige lyne wat gebruik word om verskillende kompartemente op die tekenvlak te skei.

So kry die waarnemer groter reg om verbande te lê en hieruit sin te haal.  Lees ‘n mens Winterbach se meer abstrakte voorstellings saam met dié van Gouws, val albei se bemoeienis met die betekenisrykheid van gewoonheid op.  Vir albei is die gewone ding ook die sneller vir die meditatiewe vlug.  Gouws gehul in die heilige lig van logiese vorms.  Winterbach aan wegdwaal in die lig van insig wat uit gewillige verdwaaldheid spruit.  Lyk dit op rasionele argument (onthou) weggewas word in vlekke krytkleur en verdwynende lyn (vergeet), wen die intuïsie paradoksaal juis aan mededelende krag.