Marlene van Niekerk – Stuttafords Trek (Afrikaans)

Improvisasies op ‘n trek met Stuttafords

Marlene van Niekerk, Universiteit van Stellenbosch

(‘n Effens korter weergawe van hierdie openingstoespraak het verskyn in Die Burger, 2 Desember 2006, en later ook in Beeld en Die Volksblad)

 

Dames en Here,

 

Ek nooi u uit tot ‘n klein improvisasie rondom die werk van Andries Gouws. Kyk agter op die katalogus: daar kan u lees, tussen die reëls, ‘n legende. Dis ‘n gelykenis eintlik van ‘n Stuttafordslorrie op pad tusssen verskeie haltes met ‘n versigtig verpakte vrag skilderye, skilderye meestal van intieme huishoudelike voorwerpe. Skilderye van wasbakke en seepbakkies, van hangkaste en badkamerkassies, van tafeltjies met doeke en bakke, vysels en stampers, pampoene en poskaarte en ander los goeters, poppe, botteltjies, blompotte, beeldjies, blikkies, skedels, skilderye van pypkoppelings, van rakke met boeke, skilderye van onopgemaakte beddens en van toasters op formicatafels, skilderye van ‘n ou gordyn en ‘n skildery van ‘n kantoorstoel in plastiek verpak, van ‘n medisynekassie vol botteltjies, van ‘n skulp op ‘n vensterbank. Met hierdie skilderye van nietige breekbare wereldsgoed ry die lorrie oor die vlaktes. Van die interessantste skilderye in die besending is skilderye van skilderye, soos die van Bellini en van Velasquez, en ‘n skildery van ‘n Vermeerskildery plus die skilder se eie skildery van ‘n skemer kamer. En dan is daar natuurlik ‘n skildery van ‘n skildery toegedraai in bobbelverpakking, mens weet nie wat die onderwerp van daardie skildery was, wat die skilder so toegedraai geskilder het nie, maar die kanse is goed dat daardie skildery in hierdie tentoonstelling hang. En dit sal maar een van die grappe van selfverwysing wees waarvan hierdie tentoonstelling wemel. Maar laat ons by die vragmotor bly. Dis ‘n gelykenis onthou. As mens fyn luister hoor jy hoe ritsel die piepskuim en die bobbels om die verpakte skilderye. Liggies vibreer en skud die skilderye in die donker ruim van die lorrie. Die skildery van die skildery toegedraai in bobbelverpakking ritsel effens meer natuurlik want hy is dubbeld verpak, die geskilderde en die egte verpakking sorg vir ekstra musikale friksie ahem.

 

Nou meestal ry die Stuttafordslorrie met regte beddens en kaste en toegedraaide pakkies van glas en ornamente, met die eienaar se prente en skilderye in bobbeltjiespapier toegedraai en tafeltjies en bokse met intieme huisware. So ‘n lorrie vervoer stukke huisraad, ontheg van hulle plekke in een huis na ‘n ander, nuwe huis waar hulle uitgepak gaan word, waar ‘n plek aan hulle toegeken word, sodat mense verder kan sit, slaap, bad, skilder en toast maak. Mense trek met hulle goed, hulle betrek ‘n nuwe huis met hulle goed. ‘n Mens se goed staan vir die duur van reis bekend as jou “trek”, die goed lyk vir jou heel vreemd en nietig so op ‘n hoop gestapel in die skemer ruim van die lorrie, dit lyk nie na jou goed nie. Dit is net ‘n stapel, kan enigiemand se goed wees. Mens wil dit nie eers sien nie, so triestig lyk jou trek. Uitgepak in die nuwe huis op ‘n vaste plek begin ‘n mens se goed weer langsaamaan vertroud lyk.

 

Maar hierdie lorrie van Gouws waarvan ek nou praat ry nie met ‘n eenrigting trek nie maar met ‘n rondgaande tentoonstelling van skilderye, skilderye van trekbare huisdinge. Die tentoonstelling bestaan uit doeke waaroor die skilder se hand versigtig, vir lang ure aaneen beweeg het, doeke waarop sy oe dae en maande lank gerus het, vol oorwegings, vol ondervragings. Op hierdie skilderye is alles versigtig versigtig nageboots op ‘n klein skaal en op ‘n plat vlak, alles versigtig gemodelleer in lig, en in volronde dimensionaliteit geskilder, alles is deur die skilder oorgiet met ‘n hoeveelheid aandag wat omgekeerd eweredig is aan die belang van alledaagse dinge. Soseer nadruklik was sy aandag dat hierdie gewone dinge permanent vreemd lyk. Groot versigtigheid is aan hulle bestee sodat hulle aan die eenkant so gewoon lyk soos kan kom maar terselfdertyd ongewoon. Hulle is rariteite van die gewoonheid, souvenirs van die alledaagse. Eenmaal gevat in die skildery, kan die gewone ding nie weer gewoon raak en oorgeslaan word deur die blik nie. Deur die skilder ontheg van sy vanselfsprekende verband, raak die badkamerspieël op ‘n sekere manier hiperbetekenisvol. Die huis van die verfynde aandag kan nooit weer klakkeloos geroetineerd bewoon word nie. Die aandag van die een wat kyk word permanent gespeen van gewoonte, van onsiendheid, van onbewustheid. Die skildery betrek die kyker in die meditatiewe konsentrasie van de skilder. Die kyker se gewoonteoog word “vervreem”. Die skildery van die huishoudelike objek bestendig die blik van die kyker, hy herken wat hy sien, maar dit stel hom nie gerus nie. Die kyker word intiem medepligtig gemaak aan die besondere aandag van die skilder. ‘n Gemeenskap van aandagtiges kom langsaam tot stand. Vanaand is dit selfs meer as ‘n gemeenskap, dis ‘n gemeente want ons is in ‘n kerk. En as ek dit nie mis het nie klink ek na ‘n adventis. Kom ons vervolg die gelykenis.

 

Die skilderye is van oraloor uit private versamelings herversamel vir die reis in die Stuttafords lorrie. Hulle is van mure afgehaal in wonings waar hulle ‘n vaste plek gehad het en saamgevoeg met ander latere skilderye sodat daar ‘n oorsig ontstaan. Oor uitgestrekte onbewoonde vlaktes , van stad tot stad, gaan die trajek van die oorsigstentoonstelling, van Grahamstad na Bloemfontein, van Bloemfontein na Potchefstroom, van Potchefstroom na Johannesburg, van Johannesburg na Stellenbosch en van Stellenbosch na Pretoria en dan weer na Durban. Hierdie plekke het vir die helfte al ander name. Die tyd van die tentoonstelling loop effens agter die tyd van stedelike naamsverandering.

 

Die sentra van naamsverandering is die plekke waar daar kunsmuseums en die uitstallokale is. Hier het die skilder ‘n kans dat daar mense sal wees wat wil kyk na sy versigtige skilderye van gebruikte huisraad. Die name van die lokale en kunsmuseums het self nog nie verander nie, is nog nie sinchroon met die veranderinge van die plekname nie. Hier word die skilderye uitgepak en gehang in ‘n sekere verband met mekaar, ‘n sekere volgorde en patroon, met inagneming van die lig en die muurruimtes van die lokaal. Hulle word tentoongestel vir ‘n paar weke en weer ingepak in die lorrie. Dis nie ‘n permanente uitstalling nie. In hierdie plekke kom mense uit hulle daaglikse besigheid na binne, hulle laat hulle oë gaan oor die doeke, oor die private huislike dinge wat deur die aandag van die skilder vir hulle versamel is, die kragprop bo die vloerlys, die koekie seep in die seepbakkie, die sonlig wat val oor ‘n toe deur, die bosbokskedel in sellofaan, party dink, ag nee, toaster! Party kyk met meer vatbare oë, hulle weet hy het hierdie dinge geskilder omdat hy dit ook vir ander mense wou wys, want, kyk, dis nie net sy trek nie, sien hulle, dis almal se trek, almal se ou koffer op die kas, en almal se leeslamp en badkamerspieël, en koffiepot en deurkosyn. Party is sodanig gestig dat hulle ‘n skildery koop ten einde hulle blywend te help verwonder oor die voorlopigheid van hulle eie huis se inrigting, die ou goedjies van jou wat jy hier en daar neergesit het en wat jy soms verskuif, jou stoel, jou bed, jou pakkies papiere en boksies diverse wat so vatbaar is rondskuiwery en omwenteling en wat lank na jou dood nog sal bestaan. Die gestigte kyker word bestendig in onbestendigheid. Die woning is ons woning nie, dink hy.. Die skilderye wys ons hoe om hierdie idee te verdra. Dit is anders dames en here, as die idee wat House and Leisure verkondig. Hier woon smaakvolle gemaklik elegante Helena Haa. Huppeldepup met haar oog vir “treffende fokuspunte” en “kleurvolle aksente” volgens ‘n tema van provencaalse laventel en beesvelle.

 

Die Stuttafordslorrie ry met sy vrag van Gouws se kunswerke op gevaarlike en onverskillige paaie tussen ander vragmotors spoedend van sentrum tot sentrum met bevrore hoenders, en chipboard, vlaktes wyd en droef trek aan die oog van die bestuurder verby, stasies en stopstrate, skoorstene en spoorwegbrue, en rook en vure en misbaar, omgewings verwilderd van armoede, verwilderd van rykdom word gepasseer.

 

Wat is die betekenis daarvan dat klein intieme skilderye van gebruikte huisraad, van deurleefde interieure, so sorgsaam vervoer word van plek tot plek? In hierdie land waar die lug snags sweem van bloed en yster, en die strate bedags kets en blikker in die prosesse van tomelose verbruik, van inhaligheid, afguns en vertoon, vir die meeste mense ‘n bodemskrapende ellende van blote oorlewing?

 

Ek dink dit is John Berger wat gese het dat die gepaste reaksie op die “betekenis” van kunswerke nie rasionele kommentaar of beargumenteerde kritiek of uitleg of teorie is nie, maar ‘n antwoord of ‘n weerwoord waarvan die vorm net so belangrik moet wees as die inhoud. Dit is sekerlik die rede waarom die skilder ook gedigte opgeneem het in die katalogus en in die uitstalling en u kan hulle hier lees, gedigte van Fernando Pessoa, van Petra Muller, van Yannis Ritsos.

 

In die konteks van verhuising en huisraad wil ek nog twee gedigte hierby aanhaal. In altwee gedigte word die betekenisontlediging, die objektivering van dinge tydens ‘n verhuising, gestel teenoor hulle betekenisvolheid in die verband van bewoning. Die gedigte het dit oor die voorlopigheid van woon, dit stel die moontlikheid van die verlies van intieme ruimte. Die moontlikheid van verlies skyn meer permanent as wat enige bewoning ooit kan wees. In een beweging word die skendbaarheid en die kosbaarheid van die intieme ruimte gestel.

 

Die eerste gedig is van Ernst Van Heerden:

 

Aan die verhuisingsmanne

 

Dra saggies, vriende,

Want sierpotte en erdewerk,

Keurborde en fyn glas

Sluit ‘n hele lewe

Met sy drome en verlangens in;

 

Dra saggies, mededraers,

Want die drag

Van veerbed,

Tafels , lessenaar

Druk teen die bors

se dun skelet;

 

Dra saggies, regters,

Want die oordeel

Oor my klein bedryf

Le vasgevang

In prente , boeke

En ‘n eie ou gemakstoel;

 

Dra saggies, gode,

Want die hart se porselein

Is broos en tot veel seer

En kwesbaarheid geneig;

die kratte van ‘n lewe

kan so maklik breek.

 

Die volgende gedig ook sekerlik aan u almal bekend is van Gerrit Agterberg

 

 

Beumer en Co.

 

Hoeken met huisgeheimen

Komen bloot

De vloeren schamen zich dood

De lamp hangt laag en groot

Want de tafel is weggenomen

 

Zij die na boven komen

Breken blind kapot

Wat was in slot, ontnomen

Wordt elk ding aan zijn lot

Maar de liefde is uit God,

En God is liefde amen

 

De deur die binnen was

Is buitendeur geworden

Onder de hand der horde

Sterft het glas

 

De spiegel met eeuwig licht

Zwicht langzaam voorover,

En doet de kamer dicht

Er ligt spinrag over.

 

Waar divan en donker stonden

Is, hun geheim ten spot,

Een vrouwenschoen gevonden

Maar de liefde is uit God

En buiten zullen staan de honden

 

 

Teen hierdie agtergrond wil ek vervolgens in gesprek tree met ‘n bewering wat Andries Gouws maak oor sy werk.

 

Die uitspraak is: My ideal remains to paint things with as little meaning as possible.

 

In my gelykenis oor die trek van huisraad van een huis na ‘n ander teenoor die trajek van die oorsigtententoonstelling van skilderye van huisraad hierbo, het ek reeds ‘n aanduiding gegee van hoe ‘n ek op hierdie uitspraak van die skilder sou wil antwoord. Ek dink mens sou kon se dat hierdie skilderye ‘n soort spanning teweegbring in die kyker. Mens sou kon praat van ‘n versigtig instandgehoue spanning tussen ontruiming en herinstallering, ontlediging en restourasie, onthegting en bevestiging van betekenis. Sal ek hom vra of hy miskien bedoel het: My ideal is to maintain as potent tension as possible between fullness and emptiness of meaning?

 

Mens sou aan die eenkant kon beweer dat dit wat ontruim word deur die skilder presies betekenis is. Een strategie van hierdie betekenisontruiming is in die seleksie van die onderwerpe. Medisynbotteltjies, staanlampe, obskure borsbeeldjies op ‘n boekrak, besproeiingspypkoppelings, hierdie dinge getuig nie van mag nie, is nie besonder aantreklik of glansryk nie, hulle word geskilder soos aangetref in toevallige, selfs obskure hoeke van waarneming. Hulle lyk nie eintlik gekomponeer vir ‘n verestetiserende stillewe nie, hulle word skynbaar geskilder soos wat hulle toevallig aangetref word. In hierdie dinge huis geen oortuigende verhaal van planne en suksesse en gewaarborgde duur of duursaamheid nie. Geen stralende beloning van hoge strewes spreek uit hierdie pampoen prekêr op die rand van ‘n tafel, en hierdie goedgebruikte tasse en mandjies lukraak bo-op ‘n kas gestoor nie. Die toevalligheid, die kontingensie, die nikssegggendheid van ons daaglikse huishoudelike handelinge word beklemtoon, die slyt en verweer en dateer van dinge, die onbeduidendheid van ons klein daagikse ondernemings, spreek vir my uit hierdie skilderye. Mens sou saam met die skilder kon sê, die “teleurstelling” van die bestaan kry hier beslag.. Ons is baie ver verwyder in hierdie skilderye van die goue sierrade en die brons perdekarre wat die Etruskiers saam met die lyke van veldhere en handelaars in hulle tombes begrawe het.

 

Hier is ‘n ander onderhandeling met die eindigheid aan die gang.

 

Maar, en dit is my punt, hierdie onderhandeling is nie een van nihilisme of aggressiewe selfontdoening of woedende aflegging nie. Dis ook nie een van ‘n kille melankolie nie. These fragments I have shored against my ruins kan mens seker Eliot aanhaal, but not, kan ‘n mens byvoeg, in order to shatter them in resentment.

 

Hier in hierdie skilderye het ons nie net te doen met ‘n ontruiming van betekenis nie, maar ook ‘n uitgesproke restouratiewe handeling, ‘n reddende beweging. Ek wil dit waag om te se dat die betekenis wat gered word die betekenis is van die intimiteit van bewoning, van die private ruimte, van bewoondheid. Die dinge in hierdie skilderye dra die temperatuur van aanraking en gebruik, dra vingerafdrukke en “gebeurtegeure” en persoonlike geskiedenis, dra die digtheid van die bestaan. Dis “beswangerde” ruimtes en rakke en hoeke, die parfuum, die tinktuur van die lewe hang hier en vir my wel met ‘n effek van patos. Die restouratiewe beweging gaan nog verder, baie van die skilderye argiveer die detail van historiese bestaan. Daardie botteltjie menthol in die medisynekassie, daardie ouderwetse mandjie, daardie tas uit die jaar toet, die portugese haan op die rooi en goue olyfolieblikkie, dit maak ‘n museum.

 

Een van die maniere waarop hierdie redding van die betekenis van intimiteit plaasvind is deur die skilder se hantering van lig. Die lig is nie steriel nie, dis dig en klam en vervuld, amper eroties. Dikwels het dit vir my die allure van ‘n oureool, of ‘n aura wat van die dinge self afstraal. Miskien is dit my verbeelding, maar daardie koekie seep is nogal sexy op ‘n broeis manier. Die appèl daarvan verskil van die seksappeal van die Lux van Claudia Cardinale. Gouws se skilderye kan gelees word as ‘n kritiek op wat bekend is as “leefstyl”. Sy interieure is ‘n negering van die interieure wat mens in tydskrifte soos Visi sien. Gouws se visie lyk na ‘n visioen as mens dit vergelyk met die obseen opulente foto’s waarmee die kontemporêre upmarketwoning opgedis word.

 

Die derde punt is: Nog die ontruiming van betekenis, nog die redding van betekenis kry die oorhand in die skilderye, die skilderye stel altwee bewegings in spel en kies nie kant nie, die opgeskerpte aandag vir ‘n nederige voorwerp hou die kyker ongerieflik ontuis, net soos dit die skilder ontuis hou. My bede vir hom: Mag hy nooit finaal tuiskom nie, anders sal hy ophou skilder. Mag hy nooit val vir die koekieseep van Claudia Cardinale nie, dan sal sy kwas opdroog.

 

Maar, en dis die slotgedagte, mens wil nie alleen ontuis wees in die wêreld nie. Waar vanselfsprekendhede deur die skildershand uitgesproke geword het, soek ‘n mens aanspraak Mens wil geselskap hê tussen jou vreemdgeworde huisraad. Daarin verskil ons van die zebras. Hulle kom klaar geskilder in die wereld en al kwas wat hulle het sit aan die punt van hulle stert. Ons egter is hier om saam te kyk na die rondreisende tentoonstelling van die geskilderde huisraad van Andries Gouws wat hy hier vir ons met die uitgesproke doel gehang het.. Ons kan hom gelukwens met ‘n suksesvolle trek van sy goed. Ons sal hiervandaan terugkeer na ons eie plek en voortaan met gerestoureerde oë kyk na ons muurprop en ons waterglas.