Murray la Vita – Andries Gouws, sonder pantser

Die skoonheid van die onsigbare

Murray la Vita

By, 21 Februarie 2011

Die bekroonde kunstenaar en filosoof Andries Gouws praat aan die vooraand van sy uitstalling Pedestrian Paintings met

Murray La Vita oor voete, skoonheid en oor hoe moeilik dit is om te sien.

Op ’n stil, warm Saterdagoggend stap Andries Gouws in ’n paadjie langs die wit opstal van die ou plaas Mostertsdrift aan die buitewyke van Stellenbosch. Hy en sy vrou, die skrywer en kunstenaar Ingrid Winterbach, bring tans ’n sabbatstyd van ses maande hier deur by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Stias). Dit is ’n verposing van sy pos as filosofiedosent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Veral hoorbaar is die geluid wat sy sandale op die gruis maak. En sonbesies. By wingerde stap hy verby en mense (twee panamahoede is sigbaar) wat op ’n grasperk middagete geniet. In ’n vertrek aan die agterkant van die opstal is sy sabbatsateljee. Die onderste deel van een ruit is met velle wit papier bedek om die lig wat die vertrek binnekom te temper. Teen die wit mure hang sy skilderye. Ook op twee esels staan hulle.

Pedestrian Paintings sluit in die skilderye waarom hy reeds bekend is: afbeeldings van sy alledaagse wêreld en die objekte daarin (’n bad, ’n wasbak, gordyne voor ’n venster, ’n lap vol verf).

Oor hierdie werke is al gesê daar lê onder die skynbare alledaagsheid (banaliteit selfs) van die objekte en tonele ’n diepte; ’n groot skoonheid straal uit hulle.

En dié reëls van Gouws se geliefde Griekse digter Yannis Ritsos kom weer by ’n mens op:

I Hide behind simple things so you’ll find me;

if you don’t find me, you’ll find the things,

you’ll touch what my hand has touched,

our hand-prints will merge...

Ook resoneer die woorde van die karakter Aaron Adendorff in Winterbach se Die benederyk wanneer ’n mens na Gouws se skilderye kyk:

In my werk streef ek na die diepte en eenvoud van ’n Giotto se visie en na Piero se stralende klaarheid...”

En natuurlik is die wyse waarop hy lig en skaduwee in sy werke tot stand bring al dikwels vergelyk met dit wat ons in die skilderye van Vermeer aantref.

Maar hier teen die mure van dié agtervertrek van die opstal hang daar ook die skilderye van voete wat Gouws in 2007 begin maak het. Oor hulle skryf hy: “Terwyl ek hulle skilder, lyk hulle soms intens persoonlik, intens naak – so weerloos en privaat soos naakte borste. Ek voel selfs verleë om na hulle te kyk. Maar hulle kan ook ’n rou, dierlike krag hê wat my ook daarvan weerhou om na hulle te kyk.”

JJJ

Andries Gouws is ’n lang, skraal man met die uitstraling van ’n askeet. Die feit dat sy kop kaalgeskeer is, beklemtoon die mooi, egalig gevormde koepel van sy skedel.

Die grootste deel van die 19 jaar wat hy in die buiteland gestudeer en gewerk het, was in Nederland.

Hy het dus nog ’n mate van ’n Nederlandse aksent. En nou en dan word ’n werkwoord soos “ben” gebruik. Hy praat stadig; weeg woorde en vorm hulle (“broos”, “vrou”) voor in sy mond. ’n Mens kry soms die indruk die intensiteit van wat hy verwoord (hoe moeilik dit is om sekere dinge onder woorde te plaas) is vir hom ’n foltering. Soms fluister hy.

Maar die formulerings is kragtig en suiwer. Dit is die woorde van ’n hoogs intelligente filosoof en kunstenaar wat hom ook met boeddhistiese mediatsie en psigoanalise bemoei.

Vir ’n groot deel van die gesprek staan ons. Hy draai dan na hierdie werk, dan na daardie een. Wys iets uit. Dan begin hy vertel hoe die voetskilderye ontstaan het.

Ek het jare gelede so ’n soort terapiekursus gevolg met ’n aantal ander mense.En ons sit dan kaalvoet op die grond terwyl ons dit doen. So ek het heelwat tyd gehad om te kyk na die voete. Dis almal vroue wat ouer is as ek... die ander drie mense.

Dit was die een aanleiding. En die ander aanleiding vir die voete was dat ek swem elke oggend by die universiteitswembad in Durban. En daar het ek so ’n vriend gehad. Hy was toe 75. Hy het 30 jaar lank gebou aan ’n jag in sy agterplaas. En in die proses het sy voete verskriklik baie son gekry en het nogal getéken geraak deur die son. Die meeste van die voete wat ek geskilder het, is syne.”

Met die woord “geteken” bedoel hy die merke op die voete.

En uiteindelik dan begin ek ’n ding maak wat sy eie dinamiek kry. Dat ek dink: haar voete is nie heeltemal so róói en so geteken nie. Ek was self ’n bietjie geskok toe ek nou die dag haar voete weer bekyk en ek sien: nee, maar haar voete is baie blónd en eintlik nouliks geteken.

Ja, dit lyk my ek wil iets sê...Hierdie vóéte dink ek soek na ’n soort dígtheid. Kyk as jy ’n portret skilder dan gee net die oë en die mond en die neus – maar veral die oë en die mond – ’n geweldige beladenheid aan wat jy sien.

“Dit is so dat ’n enorme deel van jou visuele korteks is eintlik daarop toegespits om gesigte te analiseer. As jy die voete skilder dan werk jy nie met daai selfde beladenheid nie; iets wat by voorbaat soveel betekenis het nie.

“So, ek dink om die beladenheid te kry, het ek dan die mérke op die voete en die sogenaamde imperfeksies verskriklik benadruk omdat dit die voete individueel maak.”

JJJ

Die gewone skoonheidsideaal kom tot uitdrukking in skeppings waarop dood, siekte, sterflikheid, toeval, of ongelukke, geen vat kan kry nie; wat jou vir ’n oomblik van daardie dinge laat vergeet. Dis asof hoe gladder en perfekter dit is hoe meer is dit soos ’n pantster waarop hierdie dinge nie kan vatkry nie.

“Ek dink by myne is dit: já, dit kán vatkry. Ja, dit voel vir my asof om te kyk na die plóóie en die áre en die verkleurings, die knóppe, die skaafmerke, asof dit alles plekke is waarop die goed vát kan kry aan ons bestaan. Aan ons lyf, maar ook aan ons bestaan. Dis dan ’n ander soort skoonheid vir my.”

Hy gaan sit in ’n leunstoel wat met geblomde Sanderson-linne oorgetrek is.

Dit is nie net van mooi en so nie, dis ook oor wérklik. Daar is so ’n uitdrukking: ‘Reality is what hurts.’ En hierdie soort skoonheid, die baie gladde soort skoonheid...it does’nt hurt en dus voel dit ook minder werklik. So...een of ander kunstenaar, dalk is dit Lucian Freud, het gesê: ‘I want to get as much reality into a painting as I can.’

As ’n mens iets wil skilder wat ’n soort werklikheid het, dan...it must hurt...dit moet ten minste nie heeltemal gemaklik wees nie. Daar moet iets op die hart wees.”

JJJ

Die afronding aan ’n skildery neem soms langer as die aanvanklike skilderproses.

Dis ’n opeenstapeling van klein aanpassings. ’n Term waarvan ek hou, is resolusie. Ek het nou die dag gekyk op die internet na ’n Vermeer wat ek in die negentigerjare gesien het op ’n groot uitstalling in Den Haag, maar ook toe weer in Berlyn gesien het. En toe ek dit sien, toe slaan dit my net weer hoe as alles nét reg is, word dit op ’n manier vreeslik eenvoudig. Al die elemente is net so gerangskik.

Toe ek voorverlede jaar terugkom van Europa toe kyk ek na al my skilderye en toe dink ek: o nee, hulle is nie resolved genoeg nie. Noudat ’n mens weer in lewende lywe die egte Vermeers en die Velasqueze gesien het, nou staan dit uit hoe unresolved sekere dinge is in my skilderye.

Maar toe ek nou weer na die Vermeer kyk ’n paar dae gelede toe tref dit my weer opnuut...”

Hy google Vrou met die pêrelhalsnoer wat hom so bekoor. Sy vul sy groot Apple-skerm.

Vermeer is een van my gode van die skilderkuns. Die líg is altyd ongelooflik. ’n Mens kan nie glo hoe min kleur hier in hierdie skildery is nie. Dit het so ’n lusiditeit, maar as jy naby gaan kyk...kyk net hoe min kleur is daar in,” fluister hy.

Dis nie armmoedig nie. Dis nie bland nie. Dis ’n heel ander strategie as wat die impressioniste gebruik het om lig en kleur te vang.”

Hy praat oor hoe die mens na dinge kyk; hoe min ons sien.

My gevoel is dat ons nouliks sien. Nou sou jy kon dink: o, ja, gewone mense sien nouliks, maar as jy ’n kúnstenaar is dan sien jy gewéldig. Maar die kunstenaar se hele samestelling is maar nes alle ander mense s’n. Die kunstenaar moet ook battle om te sien.

Die afgelope tyd is dit iets wat my baie besig hou: die idee dat die wêreld byna onsigbaar is want dis só moeilik om te sien...alles van die werklikheid wat nié gereduseer kan word tot wat jy dínk die werklikheid is nie...dis verskriklik moeilik om dit te sien.

So, dis verkriklik moeilik om te sien hoe ’n neus regtig lyk. Dis verskriklik moeilik om te sien dat jou vrou nie is wat jy dínk sy is nie. Dis verskriklik moeilik om...

Ek voel eintlik soos iemand wat byna blind is; wat nog net ’n kléin bietjie kan sien en wat probeer om daai klein bietjie sien te benut. Ek dink ons is almal byna blind.

Die moeilikste is jy skilder iets met ’n bepaalde bedoeling en dan sien jy die bedoeling in jou skilderye in plaas van wat daar is. En dít is die battle, om te sien wat daar is...en nie net te sien wat jy wil sien nie...”

JJJ

Op een of ander manier voel dit vir my keer op keer asof die plek vanwaar ek die beste leef en die plek vanwaar my beste skilderye kom, asof dit...asof ek dit direk kan konnekteer met hoe ek was toe ek vyf was.

“Ek weet nie hoekom presies vyf nie. Dis nie asof my kuns, as jy dit sou sien, sou jy sê dit is kínderlike kuns nie.

Dit klink vir my asof as ek die kunstydskrifte lees...daar is geen konneksie met my pad nie. Dit voel vir my asof dit...daar’s ’n soort knowingness wat as gunstig gesien word; ’n soort sinisme. So iets van...dis ’n verskriklike volwasse plek van waaruit jy behoort te werk. Jou volwásse intellek is baie belangrik en jou volwásse gevoelens, of soiets.”

Hy keer terug na die tyd toe hy vyf was.

“Een van die ervarings wat ek het, ek het dit toevallig vanoggend gehad, is: ek sal op ’n plek wees en dan sal ek létters sien. En dan skiélik kry ek ’n ervaring van letters toe ek leer skryf het.

Jy weet daai ‘r’. Dit kom af en dan gaan hierdie been so óp. En nou is daar sowel die motoriese ding van hoe trek jy daardie ‘r’, maar ook het jy hierdie vreemde vorm wat hier...sonder onderstéúning háng dit hierso, jy weet. Daai oomblik voordat jy...dis seker vrééslik opwindend. Dis nie asof ek presies kan onthou hoe dit was nie, maar dis seker ’n verskriklike opwindende oomblik van hierdie skríf wat jy besig is om te leer.

“Maar om mee te begin is daar die letters en jy bekyk dit soos wat jy dínge sou bekyk. Dis nie nou maar net iets wat jy sê: oukei, daar’s ’n r; dis maar net ’n teken vir daai geluid.”

Hy beskryf dit soos die avontuur van iemand wat vir die eerste keer bergklim.

“So dit is nogal iets wat ek dikwels het. En as ek dáái gevoel het dan het ek omtrent altyd die gevoel ek is op die regte plek. As ek die spoor byster is, het ek nie dáái gevoel nie.”

Ons praat oor die filosoof prof. Johan Degenaar, sy oudkollega aan die Universiteit Stellenbosch.

“Wat vir my wonderlik is van Degenaar, is hy is iemand wat in ’n baie vyandige omgewing geleef het maar hy het sag gebly en ongepantser. Hy is ’n voorbeeld daarvan dat die beste lewe eintlik een sonder ’n pantser is.

“En as jy jouself afvra wat is so spesiaal van met hom omgaan? Dan is dit ook so iets van: vergeet jou pantser; jy het nie ’n pantser nodig nie.”

JJJ

Later maak die kunstenaar sy oë toe en vertaal uit sy kop “’n wonderskone gedig” van Ritsos. Die titel is: “Die betekenis van eenvoud”

Ek wil jou hierdie pienk wolke wys in die middel van die nag, maar jy sien nie

Dis nag, wat is daar om te sien?

Dus bly vir my niks anders oor as om met jóú oë te sien nie, sê hy

Sodat ék nie eensaam sal wees nie en sodat jý nie eensaam sal wees nie

En inderdaad, daar is niks om te sien daar waar ek jou gewys het nie

Net die sterre saamgebondel in die nag soos piekniekgangers wat op ’n vragmotor terugkeer van ’n piekniek:

teleurgesteld, dors,met die verlepte blomme in hulle sweterige hande

Maar ek gaan daarop aandring om met my eie oë te sien en miskien sal ons op ’n dag langs ’n ander weg weer ontmoet

kassie

Pedestrian Paintings

US Woordfees P.J. Olivier Kunssentrum, Stellenbosch, 4-26 Maart (021 8083513)

Oliewenhuis-kunsmuseum, Bloemfontein, 14 Julie – 14 Augustus (051 4479609)

Standard Bank-galery, Johannesburg, 26 Oktober – 3 Desember (011 6311889)

Pretoria-kunsgalery 8 Desember – 26 Februarie 2012 (012 3441807)

KZNSA Durban 6 – 25 Maart 2012 (031 2023686)